Blog

Die Covid-19 gezoem van die dominees

 30 Jul 2020  Dr Johan Nel   Bedieningsbegeleiding

‘n Zoom-gesprek met die predikante van die streek oor hoe die COVID-19 pandemie hulle raak, was insiggewend. Dit was my voorreg om in te lei, en daarna te luister.

Te midde van die pandemie is daar tans ‘n veelheid (en soms ‘n oormaat) van inligting in die media beskikbaar om mense te help om die uitdagings van hierdie tyd te oorleef. Daar is ook praktiese wenke te kies en keur. Dit sal predikante help om daarvan kennis te neem, en waar nodig, toe te pas.

Ervaring het egter al geleer dat predikante hulle dikwels in unieke situasies bevind, met soms uitdagings waarvoor hulle óf nie altyd opgelei is, óf kans sien nie. Dit is daarom nodig dat predikante te midde van hierdie vreemde en onbekende tyd, eerstens gevrá word, daarna gehóór en uiteindelik ondersteun word.

Dit is nodig om, wanneer met, en oor mense gepraat word (veral in hierdie tyd), in berekening te bring dat

  • Nie twee mense noodwendig op 'n gegewe tydstip dieselfde emosionele ruimte deel nie. 'n Fyn aanvoeling is nodig om werklik begrip te toon, en nie aannames te maak nie.
  • Daar moet doelbewus gewaak word teen veralgemenings.
  • Mense moet verkieslik nie namens ander probeer dink nie.
  • Mense die opregtheid waarmee belangstel word, kan aanvoel. En daarom ook wanneer dit nié opreg is nie.
  • Inligting (ook navorsing, soos deur vraelyste bekom) gedurende voortslepende trauma vinnig verouder.

Om verder te onthou dat onsekerheid dikwels tot gevolg het dat patologie wat latent sluimer, gesneller word. Dit wat sluimer, ontwaak dikwels onder sulke omstandighede. Daar word makliker op reeds oorwonne verslawings teruggeval. Vertroebelde verhoudingsproblematiek verdiep gewoonlik, terwyl daar andersyds dikwels ook spontane oplossings na vore kom.

Wat het ek gehoor terwyl die kollegas gepraat het?

Uit die vrymoedige gesprek het die volgende merkers na vore gekom:

  • Die realiteit dat dinge waarskynlik nooit weer na "normaal" soos ons dit geken het, gaan terugkeer nie, het nog nie oral deurgedring nie. Oral is daar versugtig dat die pandemie moet verbygaan en word die vraag gevra na wanneer "...dinge weer [gaan] regkom."
  • Daar is duidelik vir meeste predikante wat aan die gesprek deelgeneem het, goeie sowel as minder goeie dae; meer so as in die verlede.
  • Daar is verbasing oor die vaardighede wat wel aangeleer is.
  • Nuwe geleenthede maak baie kollegas opgewonde.
  • Hierdie is 'n onseker tyd. Die woorde "...iets is nie lekker nie..." wat gebruik is, is veelseggend.
  • Frustrasievlakke as gevolg van uitdagende huislike omstandighede is algemeen. Dit is veral so waar die predikant te midde van eie verpligting ook na kinders moet omsien terwyl die eggenoot/eggenote buitenshuis werksaam is.
  • Predikante is oor die algemeen steeds baie besig, werk dikwels nóg langer ure as in die verlede, en is gevolglik moeër. Gevoelens van disoriëntasie, selfs depersonalisasie word ook uitgespreek.
  • Rolverwarring ten opsigte van lidmate: pogins om alles vir almal te probeer wees is nie altyd suksesvol nie. Dit is ook nie realisties nie.
  • Depressie en angstigheid manifesteer toenemend onder predikante.
  • Gevoelens van ontoereikendheid word beleef, aangesien meeste predikante gewoond is om probleemoplossend te werk. Tans is daar nie noodwendig oplossings nie. Uitkomste word ook nie altyd bereik nie, anders as tevore.
  • Die vrees vir die onbekende toekom, en die "nuwe normaal", leef net-net onder die oppervlak.

Ter opsomming:

Ek het groot waardering vir hierdie openhartige gesprek. Die eerlikheid en onderlinge vertroue was deurgaans tasbaar. Hierdie positiewe verdien waardering, en behoort gekoester te word. Gevestigde vriendskapsbande behoort te verdiep en dit is nou ook die tyd om nuwe bande te smee. Persoonlike kontak, selfs met ‘n (tot nou toe onbekende) kollega wat dalk deel van die gespek was, kan vir beide partye uiters verrykend wees.

Hierdie eerste gesprek was nodig, en die behoefte aan weer en meer is uitgespreek. Daaraan sal in die nabye toekoms daadwerklik aandag gegee word.

Dit was vir my ‘n groot voorreg om deel te wees.