Blog

Digiklesia: Nuwe deel van die Kerk is besig om op te staan

 31 Aug 2020  Ds Francois Lamprecht   Algemeen

Sedert die begin van die kerk so ver terug as Handelinge in die eerste eeu nC, was die saamwees van die gelowiges ’n baie belangrike deel van hoe Jesus se volgelinge hulleself verstaan. Ons gemeenskap is belangrik. Ons deel nie net ’n stel oortuigings nie, ons deel ons lewe. Vandaar die term wat hulle van vroeg af beskryf het – ekklesia. Dit verwys na ’n groep mense wat “uitgeroep” is om saam byeen te kom.

Ons is saam iets wat ons nie een-een kan wees nie … ons is saam die Liggaam, die bruid van Christus, die diverse maar hegte huisgesin van God. Ons kan sê dat 2020 se inperking en die digitale vorme van kerk waartoe baie van ons genoodsaak is ons ontneem het van hierdie éénwees, maar as kerk van Jesus het ons al vir honderde jare probleme daarmee.

Ons is lankal nie meer één kerk nie. Ons is verskeie kerke regoor die wêreld en ons eenwording is vir baie lank al ’n netelige kwessie. Die laaste paar dekades worstel die meeste van hierdie verskeidenheid van kerke ook met die realiteit van ’n kleiner wordende gemeenskap van gelowiges. Daar is hier en daar ligpunte, maar oor die algemeen is ons gemeentes baie kleiner as wat hulle in die vorige eeu was.

Een van die baie redes daarvoor is dat die kerk baie stadig was om die digitale taal van ons tyd aan te leer. In baie gevalle is dit as bedreiging gesien eerder as ’n geleentheid om soos in die sendingveld, ’n nuwe taal aan te leer om meer mense te kan bedien. Toe die grendeltyd ons tref het die meeste kerke vir die eerste keer oorweeg om digitaal byeen te kom. Welkom, Kerk, by die vierde industriële revolusie…

Hierdie revolusie gaan minder oor tegnologie as wat dit gaan oor die integrasie daarvan in ons interaksie met mekaar. En dit is hier waar die kerk in baie gevalle die punt gemis het. Vir baie gelowiges is die internet, sosiale media, aanlyn byeenkomste, ensovoorts deel van die vorige industriële revolusie, die digitale revolusie wat (baie oorvereenvoudig) gaan oor rekenaars wat mense vervang.

In so ’n lig gesien is die digitale of aanlyn wêreld natuurlik die vyand van geloofsgemeenskappe wat juis die interaksie met die medegelowige belangrik ag. Maar dit is nie waar ons nou is nie. Hierdie vierde groot skuif wat in 2015 amptelik sy naam gekry het, gaan nie oor mense wat deur tegnologie vervang word nie – juis nie! Dit gaan oor mense wat tegnologie gebruik om nader en meer “connected” met mekaar te wees. En dit is juis wat die kerk wil hê … koinonia- gemeenskappe wat meer van hulle lewe met mekaar deel.

Dit is eintlik vreemd dat ons so lank gevat het om raak te sien dat die aanlyn wêreld vir ons méér toegang tot die gemeenskap van gelowiges kan gee eerder as om dit te bedreig. Moontlik omdat die meeste kerkleierskap nie die generasie is vir wie digitaal ’n eerste taal is nie. Vir die gemiddelde lidmaat van die NG Kerk voel dit vreemd om selfs te dink oor die moontlikheid dat ’n aanlyn byeenkoms regtig kerk kan wees.

Vir baie ander (en in baie gevalle jonger) gelowiges is die digitale kanaal een waardeur hulle werklik kan omgee vir ander, ander emosioneel én finansieel kan ondersteun, ander geestelik kan versterk, die Goeie Nuus oor Jesus kan uitdra, saam kan bid, aanbid en God se Woord kan hoor. Dit is mos juis wat die kerk doen …

Hierdie digitale taal is nie ons almal s’n nie. Maar dit hoef ook nie ’n bedreiging vir die kerk te wees nie. Hier is juis ’n nuwe deel van die kerk besig om op te staan, een wat digitaal geroep is om deel van die huisgesin van God te wees. ’n Digiklesia.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.