Blog

Ek is 'n gewone gemeentedominee...

 20 Aug 2020  Ds Jors Reynders   Dis ‘n Ring-ding
Deur ds Jors (Jannie) Reynders, leraar van NG Gemeente Bloemheuwel

Paulus sê dat wanneer hy oor homself praat, praat hy soos ‘n dwaas. Ek is ook versoek om hierdie “dwase ding” te doen en iets oor myself te skryf. Ek is ‘n gebore en getoë Vrystater. Op ‘n plaas in die Noord-Vrystaat grootgeword, in Wesselsbron matriek afgelê en teologie gaan studeer aan die UV. Ek kom nog uit die dienspligera en het die twee jaar gebruik om my Meestergraad in Sendingwetenskap te voltooi.

Die pad wat die Here met my geloop het, kom van kleins af aangesien my ouers aktiewe “kerkmense” was. Die Here het my aangeraak in ‘n voorskoolse Sondagskoolklas waar die juffrou-tannie my bewus gemaak het van God se liefde vir my/mense. In graad vier het ek reeds die roeping van die Here gekry om eendag 'n predikant te word. Die Teologie oor die Verbond van God met kinders, het ek dus in my eie lewe beleef. God is getrou, al was ek so telkemale ontrou teenoor Hom. Ek was en is nie altyd vir Hom ‘n maklike reisgenoot nie, maar gelukkig is Hy die perfekte Reisgenoot.

Ek is in 1983 getroud met Marie en 4 kinders is aan ons toevertrou. Tans is ons die grootouers van vier kleinkinders, waarvan ons bevoorreg is dat drie van hulle in Bloemfontein is.

Na die twee jaar diensplig in Kimberley, is ek in Januarie 1988 beroep na Ooshoek-gemeente, geleë op die oostelike hoewes buite Bloemfontein. Na drie-en-‘n-half jaar het ek verskuif na Brandwag-gemeente in die stad en was daar in die bediening tot 2008 toe Brandwag met Bloemheuwel-gemeente saamgesmelt het om finansiële redes. Ek is tans mede-leraar saam met, ds JA Smit, wie nie net my kollega is nie, maar ook my vriend (mentor).

In my persoonlike lewe geniet ek familietye. Ek het vir dertig jaar muurbal in die stad gespeel, maar moes onlangs ‘n knievervanging kry en nog een lê voor. Ek en my vrou geniet dit om in die natuur te kampeer om sodoende ons wonderlike land te sien.

Ek was nog altyd net ‘n gemeentepredikant en het persoonlik nie aspirasies gehad om in kerklike strukture “op” te beweeg nie. Die Missionaliteit van die kerk was nog altyd vir baie belangrik en ek beskou en beleef dit tans as opwindend en uitdagend om die lidmate van die NG Kerk gemeentes waar ek dien, te begelei vanaf ‘n “volkskerk” ingesteldheid tot missionale kerkwees. Ek sien dus nog nie uit daarna om af te tree nie, al gaan ek die sestigers binne.