Blog

Ek, van toeka tot nou...

 20 Aug 2020  Ds Fanie Spamer   Dis ‘n Ring-ding
Deur ds Fanie Spamer, leraar van NG Gemeente Heuwelsig

Fanie Spamer, 'n amper oupa, gebore in Kroonstad op 18 September 1960. Ek het grootgeword in Welkom op die Vrystaatse goudvelde. My skooljare is aan die Laerskool Dagbreek (1967 – 1973) waar my ouma ook 'n onderwyseres was en die Hoërskool Welkom Gimnasium (1974 – 1978) waar my skoonpa vir baie jare Afrikaans gegee het. Ek was nie die hoofseun nie en ook nie op die leerlingraad nie, maar kom tog matriek deur en begin met BA Admissie in 1979 aan die destydse PUK. In 1980 skuif ek na Kovsies waar ek my studies voltooi. In November 1986 trou ek met Annareth en begin met my diensplig in Januarie 1987. Na my opleiding by die Leër Gimnasium op Heidelberg voltooi ek my diensplig by 1 SAI Tempe.

Die gemeentes waar ek gewerk het was Wilgehof-Wes, nou Gardeniapark (1989 – 1995), Hartenbos (1995 – 1997), Gardeniapark (1997 – 2007) en Heuwelsig 2008 – huidiglik.

Ons het twee kinders, 'n dogter en 'n seun. Anel is 'n verpleegkundige by die Bloemfontein Medi-Clinic en getroud met Christof Hellmuth. Hulle boer in die Bultfontein-distrik en verwag hul eersteling seun DV middel Desember.

Ons seun, Stefan, is nog ongtroud en 'n dokter in Kimberley.

Ons is baie lief vir reis en sal maklik my kar verkoop vir 'n vliegtuigkaartjie ... het dit al paar keer gedoen!

As ek terugkyk op die afgelope 34 jaar, is ek dankbaar oor die pad wat ek saam met die Here kon loop. Hy was vir ons baie goed. Ek was bevoorreg om in die kerk te kon wees in opwindende en stormagtige tye.

1986 - Die aanvaarding van die Belhar Belydenis deur die NG Sendingkerk; Kerk en Samelewing en die ontstaan van die APK

1990 - Die toelating van vroue tot die amp

1991 - Prof Willie Jonker se apartheidsbelydenis by Rustenburg

1994 - Die eerste demokratiese verkiesing; Die totstandkoming van die VGKSA

1998 - Kinders se toelating tot die nagmaal

die jare na 2000 - Die onafgehandelde pad na kerkeenheid; Die gaydebat ... en al die hartseer daarmee saam

Volgende maand word ek 60. Hoe vinnig het die jare nie verby gegaan nie! Die afgelope maande met die Corona-virus is ons almal gekonfronteer met ons eie sterflikheid en dit waarmee ons ons elke dag besighou. In 'n sin was dit 'n groot gelykmaker. 'n Kollega van my, Gerhard Botha, het eendag gepreek daaroor dat ons moet leer om “lig te reis”. Ons dra swaar aan bagasie, veral die aardse goed wat ons tog so kan bymekaar maak. Ons kan met baie minder klaarkom. Ek kyk elke dag met nuwe dankbare oë na die lewe...ons het net vandag...as jy hom mis is hy vir altyd verby!

Ek sien met verwagting na uit na hierdie nuwe seisoen wat wag...om oupa te word en om elke dag maar net die lewe met 'n nuwe dankbaarheid te omhels en elke dag wat vir my gegee word, op te leef!