Blog

Gesant - Predikant

 8 Sep 2020  Ds Jaco Thom   Dis ‘n Ring-ding
Deur ds Jaco Thom, leraar van NG Gemeente Petrusburg

Toe ek in April 2019 in Petrusburg as predikant bevestig is, is die sirkel van my bediening voltooi. Ek is in Februarie 1985 in Monument (nou deel van Uitsig-Bloemfontein) georden. Van 1991 tot 2018 was ek predikant in Toringkerk in die Paarl. Ek kyk dankbaar terug na meer as ’n kwarteeu wat ons bevoorreg was om in die Boland te kon woon. Petrusburg is verfrissend anders as die semi-stadsgemeente waar ek so lank gearbei het. Die gemeente het ons van die begin af verbyster met hulle liefde. Wat ’n heerlike finale vir my bediening!

My vrou Elmien is ’n musiekonderwyser en orrelis, en ons is geseënd dat sy in al drie gemeentes waar ek was, ook die orrelis kon wees. Dis wonderlik om saam met haar ’n erediens te doen. Veral nou in die grendeltyd met die aanlyn-dienste kon ons heerlik saam beplan aan elke diens. Ons het sommer ons dogters ook ingespan om te help met die singery, al is net die oudste, Matildie, hier in Bloemfontein. Ons tweede dogter, Maryke, is in Santa Barbara in die VSA en ons jongste, Elmien, is in Sydney in Australië. Met behulp van tegnologie sing ons egter heerlik saam by elke erediens.

Ons het twee kleindogters, albei pas twee jaar oud. Hulle vermurwe hierdie oupa se hart.

Naas my gemeentewerk het ek twee jaar gelede begin met Jaco se Bybelkoerant, ’n aanlyn-bediening wat ek vanuit my webwerf www.bybelkoerant.co.za bedryf. Dit is ’n wonderlike manier om my skryfwerk en preke (my twee groot voorliefdes) weekliks per e-pos aan ’n groot leserstal te stuur. Ek behartig ’n hele aantal rubrieke op die webwerf, o.a. koerantjies, besinnings, preke en sedert die begin van die jaar ook ’n daaglikse oordenking oor ’n hoofstuk in die Bybel. Ek lees naamlik elke dag saam met my gemeente ’n hoofstuk uit die Bybel, en stuur dan ’n kort besinning daaroor aan die gemeentelede.

Ek geniet dit om ’n predikant te wees. Dis ’n ongelooflike voorreg om die Woord vir mense te kan oopmaak.