Blog

Liewe Goeie Genade

 29 Sep 2020  Ds Gert Victor   Dis ‘n Ring-ding

Goeie genade hoe skryf mens iets oor jouself!? Dit laat my dink aan daai leer-mekaar-beter-ken-episodes waar almal in ‘n kringetjie sit en uitfigure wanneer dit jou beurt is dat jy darem iets opbouend kan deel oor jou inkom en uitgaan, jou gaan slaap en jou opstaan...

My vrou Letia sou hierdie makliker gedoen het, want sy is ‘n prater en ek hou van luister. Ons is einde 1988 getroud, toe pas-afgestudeerde Tukkies, ek klaar met BD en sy met B.Com Rek. Ek was in Olienhout en sy in Erika. Die lekker studentelewe het plek gemaak vir twee jaar nasionale diensplig waartydens ons in Potchefstroom ‘n tydelike tuiste vind.

Terloops, in daardie weermagtyd het ek gereeld rondgepreek (twv ondervinding en vir geld). Op so ‘n ekskursie op pad na die konserwatiewe Ventersdorp breek ons Ford-karretjie padlangs. Met hemelse genade kom ons net 10 minute laat en ruk-ruk voor die rooibaksteen Moederkerk tot stilstand. Dit was ‘n warrelwind-sessie deur die konsistorie, die wet, skuldbelydenis, genadeverkondiging en alles. En om dit te kroon maak ek die onvergeefbare tongflaterfout en verwys in die preek na die ANC ipv die CNA waar Bybels in oormaat te koop beskikbaar is... Op pad terug was ek en my jong bruid maar te bewus van wat genade is. En daar was intussen heelwat sulke genade-momente.

Einde 1990 is ek as 26-jarige proponent in Ottosdal in die ou Wes-Transvaal bevestig. Dit was uitdagende tye op politieke, ekonomiese en landbou gebied, maar  ook ‘n baie besondere leerskool. Daarna volg ‘n bediening van 1997 tot 2007 in Brits gemeente. Wat ‘n voorreg om op die randjie van die Bosveld ‘n bedieningspad te kon stap met opregte aardse medegelowiges. Daar het ons kinders begin skoolgaan en kon ons die vreugde van die bediening en die saam reis met liewe geloofsvriende in oormaat ervaar.

In 2007 het ek ‘n beroep na Harrismith aanvaar en is die sirkel voltooi na die Oos-Vrystaat waar ek gebore is en grootgeword het. Ek het in Cornelia skoolgegaan tot standerd twee, en in Frankfort gematrikuleer. Plaaskind van die Tafelkop-omgewing langs die N3 ‘n entjie duskant Villiers. Een van vyf kinders. My pa is vroeg oorlede, en my liewe ma het die pot briljant aan die kook gehou met ‘n onderwyssalaris. ‘n Voorreg om mens van die Riemland te wees, met sy ysige winternagte, soel somers, en goeie siele. Die gemeente is goed vir ons, en ek het besondere mede-leraars as reisgenote.

Covid-19 het my gehelp om weer te begin oefen, en om effens beter te leer golf speel, en meer gereeld met ons Beagles te gaan stap, en om rustiger te wees (haha). En te weet daar is regtig meer om net te aanvaar sonder dat dit nodig is om te verander. Dis mos ook genade.

Ek en my bruid is geseën met 3 liefste van liewe kinders. Marilé (29) ‘n Risikobestuurder in Dublin (Ierland). Franco (21) ‘n Meganiese Ingenieur in wording (NWU 3de jaar)... en Gérick, oorlede in ‘n motorongeluk op 8/2/2013 op ‘n bultjie naby Winburg. Ons het daar vir hom ‘n genadekruis opgerig langs die N5... Dis ‘n deeltjie van my storie. Liewe genade!