Blog

'n Bietjie wysheid van 'n bietjie grysheid...

 13 Aug 2020  Dr Charles Mitchell   Visionering
Deur dr Charles Mitchell, leraar by NG Gemeente Andrew Murray

“Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg (Jakobus 3: 17) “. “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig (Ps 111: 10). “...vir dié wat deur God geroep is... is Christus die krag van God en die wysheid van God (1Kor 1: 24)”.

Ek is oppad om 63 te word, en die grysheid begin deurslaan. As jy jou daarop instel, sal wysheid ook deurslaan. Ek het aan die Rand, in die stad, grootgeword en is ironies genoeg met ʼn wonderlike plaasmeisie, Christa (van der Merwe), uit die Hoëveldse platteland getroud. Ons het vier kinders wat elkeen hulle passie in hulle beroepe uitleef. Ons drie kleindogters is die heel onderste deel van die hart se punt. Ek kom in 1974 (graad 11) tot bekering, maar is (ongelukkig) nie ʼn produk van die destydse Jeugtot-Jeugaksie nie. Die invloed daarvan op die matrieks in die jaargroep voor my, het egter aan my afgegee. Uit daardie groep het vyf matrieks vir die bediening aangemeld en BA Admissie op Potchefstroom gaan studeer. Ek is noodwendig nadergetrek om by hulle in te val. Alhoewel ek van plan was om Stellenbosch Kweekskool toe te gaan, het die liefde van my lewe my Tukkies toe gedwing. Hier kon ek later onder prof Attie Barnard promoveer (homiletiek). Tukkies was baie goed vir my.

Gedurende my dienspligtyd, moes ek twee keer grens toe gaan. ʼn Groot stuk wysheid wat ek tydens my eerste grensdiens opgedoen het, was om ʼn gebalanseerde leraar te wees. My eng piëtistiese en puriteinse ingesteldheid het verhoudinge belemmer. Ná ʼn “sosiale bekering” op die grens het ek ʼn mens tussen mense geword wat ook maar net mense wou wees. My diensplig en grenstyd was uiters noodsaaklik vir my sosialisering met gewone mense met gewone behoeftes. Ek moes leer om ʼn gebalanseerde mens te word voordat ek die bediening betree.

Die eerste gemeente was op die Hoëveld, Morgenzon. Hier leer ons dat baie gemeentes bereid is om jong leraars toe te laat om “skoolgeld” te betaal. Ons maak baie foute en kry baie raad. Lank voor ons bediening daar, was ds Griesel vir 45 jaar die leraar (spreekwoord in die gemeente: hy het gekom as peperment en is weg as “extra strong”). Ek eer gemeentes wat jong leraars gun om te foute te maak en daaruit te leer. Alhoewel byna uit die bediening oor politiek (1986 skeur die kerk en ons is ons eerste jaar in die bediening) het ons geleer om nie by partypolitiek betrokke te raak nie. Dit was intimiderend, maar ʼn wyse besluit.

Die tweede gemeente was in die suide van die destydse Natal, tweekoppig (hardkoppig??). Fyn trap was die wagwoord. Deesdae val beide Cedarville en Matatiele in die Oos-Kaap. Ons kry ʼn oop agenda om ons as leraarspaar uit te leef. Hier ervaar ons hoedat plaasmoorde ʼn gemeenskap verwond én saamsnoer. Alhoewel tweederdes Engels, is dit ʼn wonderlike gemeenskap. Hier leer ons die wysheid agter ekumene, waar die Roomse, Anglikane, Metodiste, Full Gospels, VGK en NGK
werklik ʼn eenheid was. Die skool huisves destyds 500 leerlinge, graad 1-12 en leer ons die wyse onderskeiding tussen opleiding en opvoeding. Ons besluit om nie ons kinders na groter sentra te stuur nie, want dan gee ons ons opvoedingstaak vir ander: “Kinders kan oor opgelei word, maar nie oor opgevoed word nie,” word ons motto. Ons kon in hierdie opsig vir baie mense van goeie raad bedien.

Dan volg Bloemfontein, Heuwelkruin – medeleraarskap. Ek het dit sien wérk en nié werk nie. Ek bid dat ek en my kollega in persoonlikhede sal verskil, en so was dit. Die wysheid hieragter was dat ons komplemente van mekaar sal wees, sodat ons nie eenogig na gemeentewerk kyk nie. Dit het alle vlakke van die bediening lekker dinamies gemaak. Wysheid is om faksies te vermy. Goeie kollegas deel in mekaar se lief en leed. Met ʼn verstandige kollega kan jy moeilike en intieme paaie stap.
Verder help groot stadsgemeentes jou die wysheid om by jou primêre taak te bly – VDM! Die stad het genoeg sielkundiges, gemeenskaplike werkers, finansiële raadgewers en ander kundiges om lidmate met spesifieke behoeftes te help. Op die platteland is jy dikwels sielkundige, ambulansman, finansiële raadgewer en maatskaplike werker (en ander portefeuljes) en kan die Woordbediening later daaronder ly. In die stad leer ons dat ware lojaliteit skaars is en dat ons moet doen wat ons kan, terwyl ons kan. Hier benodig jy baie wysheid wanneer jy agterkom dat deurklokkies al minder en die heinings al hoër word. Persoonlike ruimtes vra om gerespekteer te word.

Na aftrede en as tentmaker, volg Andrew Murray Community Church (AMCC), die Engelse NGK. Ons is maar ʼn jaar hier en genadiglik het ons sewe maande gehad om te bind, voordat Covid-19 ons getref het. Hier het ons weer besondere wysheid nodig gekry. Ons moes aanpas by ʼn baie klein, multikulturele en andertalige gemeente. Hier is ook swaarkry-lidmate wat versorg moet word. Hier vind ons ʼn unieke omgee vir ander se behoeftes en ʼn onvoorwaardelike aanvaarding van mekaar. Die wysheid wat jy hier nodig het is om te weet dat dit nie ʼn replika van die NGK is nie. Waarskynlik baat die gemeente by ons wysheid, en nie noodwendig by al die kennis wat ons in die Afrikaanse gemeentes opgedoen het nie. Ons bid ook elke dag dat God wysheid sal gee vir die voortbestaan van hierdie gemeente. Gaan AMCC die pandemie oorleef? “Die gemeente is vir Christus belangriker as vir die lidmate.” Kom ons bly bid vir wysheid om waarlik kerk in veranderende tye te wees. Vir die
kerk van Christus, geld die teks uit Jakobus nou meer as ooit: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (1: 5)”.

Ek is begenadig om deur die bril van geloof na die Bybel te kyk en te begryp dat Christus alleen die koers van ʼn mens bepaal: sola gratia, sola fide, sola Scriptura – solus Christus. Dus: Soli Deo Gloria!