Blog

Sypaadjies ... Geboorteplekke van nuwe hoop!

 20 Aug 2020  Ds Fanie Spamer   Dis ‘n Ring-ding

Hierdie is sommer net ‘n mooi storie wat drie jaar gelede op 'n sypaadjie begin het.

Ek het nog altyd 'n bewondering gehad vir straatverkopers...daai mense wat elke oggend in wind en weer hulle winkel moet oplaai en gaan uitpak en elke middag laat weer moet oppak. Hulle wilskrag en deursettingsvermoë fassineer my.

Martha Tshabalala is so iemand. Op 70 jaar is sy elke oggend net na sewe op haar pos voor die Universitas-Hospitaal met die lekkerste vetkoek wat sy daar op die sypaadjie vir jou bak. Dan is daar ook slap tjips, stukkies snoek, skywe polonie en suiglekkers op haar tafel. Sy is die enigste broodwinner in haar gesin van ses.

Dit was nadat ek een oggend vir iemand in die hospitaal gaan kuier het, dat my pad met Martha gekruis het. Oppad na my motor wat buite die afgebakende parkeerarea gestaan het, het ek in my binneste geloop en mompel oor die al die papiere wat rondlê en taxis wat parkeer en maak net soos hulle wil, toe ek by haar stalletjie verbyloop en die reuk van vars gebakte vetkoek ... Martha se vetkoek, my in my spore gestuit het. Jy sal my maklik met vetkoek onder ‘n wip vang! Honger vir vetkoek het ek nadergeloop, half onseker en uit my "comfort zone". Ek het skaars my plek in die ry ingeneem, toe Martha van agter die tafel vir my vra of sy kan help. Half verbouereerd, want daar was ander mense voor my in die ry, het ek gevra vir vyf vetkoeke. Sonder dat een van die ander mense in die ry ‘n woord gesê het, het sy my gehelp asof ek een of ander belangrike persoon was. Erg verleë het ek betaal, dankie gesê soos nog nooit tevore nie en na my motor toe gestap.

Nodeloos om te sê dat die vetkoek nie die huis gehaal het nie ... en sedert daardie dag, al moet ek ‘n verskoning uitdink, stop ek by Martha vir vetkoek. Van ons vriende koop ook nou gereeld by haar. Sy het al by drie geleenthede as bakster by ons gemeente ingestaan en die mense is gaande oor haar vetkoek. Op Vrydag, die 14e Augustus, was sy 07:00 op haar pos by die kerk ... die keer om 650 vetkoeke te bak!

'n Kosbare verhouding het op ‘n sypaadjie in Bloemfontein begin groei. Ek het al baie gewonder oor al ons amptelike kerklike pogings om verhoudings oor kleurgrense te bou. Ons praat baie daaroor en dis nodig, maar hoeveel van ons wat praat is aktief betrokke by verhoudingsbou in hierdie land. Sien ons ooit die geleenthede raak wat elke dag op ons pad kom om mekaar te leer ken en te verstaan. En dan die groot vraag ... wat doen ons om mekaar te leer ken en iets van mekaar se wêrelde te verstaan? Is daar die wil om in mekaar se skoene te staan?

Die eerste keer wat Martha vir ons gemeente vetkoek gebak het, het sy dit by haar huis gedoen. Sy het egter ‘n voorwaarde gehad ... ek moes haar gaan help. Ek sou haar bediende die dag moes wees ... deeg aangee, gaan water haal, messe was, tafel afvee ... Daar is baie Marthas in ons lewens...hulle werk in ons huise, was ons klere, maak ons bed op, maak ons kinders groot, kook vir ons kos, eet buite by die tuintafel ... hulle werk vir ons ... doen wat ons sê! En toe word ek vir ‘n middag Martha se bediende! Dit was so anders as wat ek daaroor gedink het...ons het gesels en gelag en uitgevra oor mekaar, koffie en tee gedrink en vetkoek gebak ... ek was nooit haar bediende nie ... ek was haar eregas!

Dankie Martha! Dankie vir jou omgee! Gedurende die “lockdown’ het sy drie keer gebel om te hoor hoe dit gaan! Jy het my weer kom leer wat dit beteken om diensbaar te wees, om met oë sonder vooroordeel te kyk, om die mens agter die mens raak te sien! Om vuil deurmekaar sypaadjies te sien as beginpunte van nuwe verhoudings, as geboorteplekke van nuwe hoop!