Blog

Van rommel tot meubels

 9 Sep 2020  Ds Elize Stander   Dis ‘n Ring-ding

Dit is eers toe ek begin het om al my sagte plastiek te stoor, wat ek agtergekom het presies hoe baie plastiek ek net een keer gebruik en dan weggooi. En ons almal weet dat “weggooi” eintlik net ‘n eufemisme is vir “laat lê dit net op ‘n ander plek waar dit skadelik is vir mens, dier en die omgewing.” Ons weet mos lankal al dat die vullistrok nie die rommel laat verdwyn nie … dit verdwyn net uit my onmiddelike omgewing en sig.

Toe vat ek al die rommel wat ek opgegaar het en gaan gooi dit een Sondagoggend in die kerk. Dit was omtrent pret om te hoor hoe die lidmate geskok verneem van al die vullis in die mooiste kerkgebou, en dan skuifel-skuifel deur alles moes loop tot by hul sitplek. Die boodskap aan ons was duidelik: ons moet ‘n plan maak met al ons rommel.

So begin ons ekostene maak.

Die lidmate maak ekostene in hul huise. Die kinders wat uit die skool geval het gedurende die jaar kom op ‘n Donderdag by “tannie Melanie” ‘n Sondagskoolles en ‘n lekker bord kos kry. En dan stop hulle ook bottels. Die sopkombuis onder die bekwame leiding van Marie Scheepers het ook begin om ekostene te maak. Om te keer dat daar ‘n bakhand kultuur ontstaan, moet die kinders eers ‘n ekosteen maak, en dan kry hulle heerlike kos. En natuurlik moes Daniël en Heidi, die bekwame huishoudsters in die pastorie ook in spring … en bottels stop.

Dit was nie lank nie toe sit ons met honderde bottels. En toe begin die lekker deel: ons begin meubels maak. Daniël en Heidi se eerste meubelstuk was ‘n bank en toe ‘n tafel met stoele. Vyf seuns uit die hoërskool het ook ‘n pragtige bankie gemaak, so mooi dat die juffrou dit graag vir haarself wou hou. En die sopkombuis is besig om ‘n dubbelbed te bou.

Jane Goodall het gesê: “You cannot get through a single day without having an impact on the world around you. What you do makes a difference and you have to decide what kind of difference you want to make.” Ons as Christene het dan juis die opdrag gekry: Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere. En natuurlik ook die opdrag om ons naaste lief te hê … ja, ook die naaste wat ná ons hier op aarde gaan leef. Om só te heers en om só lief te hê en om ‘n positiewe impak op die wêreld te maak beteken om jou plastiek verbruik te verminder, en dit wat jy wél gebruik weer te gebruik.

Ekosteen vir ekosteen en met die hulp van oud en jonk, gaan ons ons dorpie weer skoon kry. En natuurlik ons nuwe meubels ten volle geniet!

(Ds Elize Stander, leraar van NG Gemeente Jacobsdal)