Blog

Veilige ruimte?

 13 Aug 2020  Ds Anneri Viljoen   Kuratorium

Teologiese dag, Februarie 2019. ‘n Hele liturgie geskryf ter bewusmaking van vrouegeweld in ons land. Oomblikke wat my aangryp, die verhaal van Tamar… gesprekke oor hoe ons ruimtes moet maak in die Kerk vir hierdie vroue. Ek – en ek is oortuig dat ek nie die enigste vrou daar was met ‘n storie nie – voel die gesprek aan ons lyf. Dalk is vandag die dag dat die Kerk hierdie roep vanaf ‘n akademiese stem sal hoor en sal beliggaam. Dit is dan so ‘n belangrike stem, tema en oproep vir elke leraar en kerkleier wat vandag hier is.

Die Kerk sal verstaan waardeur ek dan gaan reg? In die Kerk sal ek en my kinders veilig wees? In die Kerk sal daar genade wees?

Skaars drie maande later sou ek skuldig bevind word aan ‘n tugwaardige sonde deur die Ring se tugliggaam omdat ek die moed bymekaar geskraap het om uit ‘n gewelddadige huwelik te klim. Omdat ek ‘n beter lewe wou hê vir my seuns en myself. Daar sou dan ‘n tuiskoms wees vir my en my kinders in die Kerk. ‘n Veilige hawe het ek gedink… Maar ek was die suur smaak gegee van ‘n skuldigbevinding aan ‘n tugwaardige sonde toe ek iets gevra het om te drink.

Watter boodskap dra ek hiermee as vroueleraar in die NG Kerk uit na ander vroue om my wat in gewelddadige verhoudings en huwelike vasgevang is? Is daar werklik ruimtes in die Kerk waar genade ervaar kan word? Is die Kerk werklik ‘n ruimte waarin God se liefde tasbaar beleef kan word vir slagoffers van geweld en ongeregtigheid? Alle vorme van ongeregtigheid? Is die Kerk ‘n plek waar hierdie slagoffers gehoor word? Is die Kerk ‘n ruimte waarin die veiligheid, skuiling en toevlug van God soos Hy in Psalm 28 beskryf word, beliggaam word?

Hoe gaan ons met tekste om en ons uitleg daarvan om as ons praat oor kwessies soos menswaardigheid, geregtigheid en egskeiding? Want dit lei daartoe dat ons soms sekondêre geweld toedien aan slagoffers. En in my ervaring is hierdie sekondêre vorm van geweld moeiliker om te verwerk. Dit is dan mos nie wie die Kerk of God is nie? Gewelddadig. Hoe ons dink oor hierdie kwessies kan aan die uiteinde van die dag die boublokke wees vir sistemiese geweld. Wat sê tekste oor God binne ‘n sisteem van geweld? Ook, is die meerderheid lidmate in die NG Kerk vroue. Watter ruimtes skep ons vir hulle?

Watter rol speel ons as leraars en kerkleiers om ruimtes te wees waar God se toevlug aktief beliggaam word, of bly ons stil, kies ons die kant van die wat geweld pleeg, luister ons verdag na die noodkreet van slagoffers of erger, kyk ons anderkant toe?

Ironies genoeg neem geweld meer toe nadat ‘n vrou uit ‘n gewelddadige verhouding/huwelik tree. Dit is dan wanneer ons die mees broos en onveilig is. En dit is die hoofrede waarom dit makliker is om eerder te bly as om uit so ‘n verhouding te tree. Die prys van ons storie kos party se lewens. Met elkeen van hierdie woorde wat ek skryf is ek deeglik bewus daarvan dat om my stem te laat hoor my duur te staan kan kom. Dit onderstreep die feit dat daar min van hierdie veiligeruimtes is, en dat die sisteem ons faal. Die toevlug en beskerming in God vind ek nog net in my binnekamer, ‘n groep ongelowiges by ‘n ondersteuningsgroep en ‘n paar individue wat die moed gehad het om my stem te hoor en my te glo. My werklik te glo, want mense glo ons nie.

Maar, ek droom van ‘n dag wanneer daar meer ruimtes geskep sal word in die Kerk waarin die harte en siele van mense – en vroue - weer gesond kan word, en kan lewe. Ek droom van ‘n dag wanneer die Kerk die stemme van die verontregtes sal hoor – en dan nie net daaroor sal skryf nie, maar daadwerklik iets daaraan sal doen. Met die hulpbronne wat ons het. Dat ons soos prof Daniël Louw voorstel in sy boek, Cura Vitae, die teenwoordigheid van God sal beliggaam. Vir dié wat roep, dié wat seer het, dié wat ongeregtigheid ervaar. En ek droom dat die Kerk sal droom soos God oor ons droom.

Mag ek en jy liewe dominee van God, daardie toevlug beliggaam in die gemeentes waartoe God ons geroep het. God is my toevlug en beskerming. En uit die menigte stemme wat roep - teen ‘n ontsaglike prys - is hierdie my stem.

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.