Blog

Vergesel Kareltjie en Friedel

 9 Sep 2020  Dr Christo Herbst   Dis ‘n Ring-ding
Deur dr Christo Herbst, leraar van NG Gemeente Trompsbrug

Gebore in Standerton in Mpumalanga op 29 Mei 1969. Getroud met Alta op 4 Januarie 1997 en het twee kinders, Lené en Chris. Later jare het nog tweetjies deel van die gesin geword, Kareltjie en Friedel.  Kareltjie het in Warmbad by die gesin aangesluit toe die sanger Fatman ons aan mekaar voorgestel het. Friedel het so onlangs as aan die begin van 2020 uit die VSA by ons Herbst-gesin aangesluit.  Kom ek vertel julle meer oor my bediening met buikspraak, want die laaste twee toevoegings tot die gesin, is my poppekinders.

Met die grendeling as gevolg van Covid-19 het ek besef dat die preke deur tegnologie nie op die kinders se vlak van kommunikasie kom nie. Met baie motivering uit die gemeente in Trompsburg het ek dit begin waag om die RCL tekste vir die kinders te probeer oopbreek. Op die oomblik kan jy die twee karakters op Facebook besigtig by Kareltjie en Friedel, op hulle eie bladsy. Jy kan ook op Youtube onder Christo Herbst gaan soek en sien hoe die tweetjies die Bybel vir dié wat jonger van gees is probeer oopbreek. Net miskien kan jy hulle ook iewers in jou jeugbedieng inhaak. So tussen hakkies, baie aanhangers van die twee is bo 35.